Soos ek ouer geword het, en huislike pligte en verantwoordelikhede teenoor die kinders al meer geword het, het ek soos menige ander mens, die belangrikste aspek van menswees, en dit is my verhouding met die Allerhoogste, agterwee gelaat. Dit gebeur so subtiel. As jy jou kom kry, besef jy op ‘n dag maar ek het ver weg gedwaal, en ‘n baie oppervlakkige verhouding met Hom gehad. Die kinders is by die Kerk afgelaai vir Sondagskool, maar self feitlik nooit die binnekant van ‘n kerk gesien nie. Wat ‘n vreeslike voorbeeld moes dit nie vir hulle gewees het nie! Gelukkig kon ons darem die fout regstel in later jare. Ek het nog taamlik gereeld my Bybel gelees en een ding wat ek nie verwaarloos het nie, was my gebede tot Hom. Ek het soms sommer so hardop met Hom gepraat.
Ek kan wel van menige keer getuig dat Hy wel my gebede verhoor het, en dat Sy hand van beskerming ook male sonder tal oor ons gesin was. Veral in my werksituasie het my Verlosser ‘n baie groot rol in my lewe gespeel. Ek glo dit was Sy hand van wysheid en beskerming wat my male sonder tal uit situasies gelei het, dat ek net verstom kon terugkyk, en nie anders kan as om my Skepper se werke te aanskou nie.
In my vroee twintiger jare, het ek uit die bloute ‘n belangstelling in die bestudering van die Illuminate, Vrymesselary en Satanisme gekry. Wanneer jy hierdie organisasies begin bestudeer, besef ‘n mens baie gou dat hulle eintlik as ‘n geheel funksioneer. Hulle is so inmekaar verweef dat jy hulle nie as aparte entiteite kan beskou nie. Wat verstommend is, is die feit dat boeke op die eienaardigste maniere by my uitgekom het. Ek het baie oor hierdie onderwerpe opgelees, en as ek met een boek klaar was, is ‘n volgende boek in my hande gestop. Ek het menige dag gewonder hoe dit gebeur en wat die doel agter hierdie studie is.
Hoekom ek die vraag vra, is dat as jy mense van hierdie organisasies vertel, wat hulle modus operandi is, wat die doel en beplanning agter hierdie organisasies is, waarvoor hierdie organisasies hulle beywer ens. dan word jy beskou as van lotjie getik. Die meerderheid mense se dan ook reguit hulle wil niks van hierdie goed weet nie, en dat jy ‘n spul snert praat. So bestudeer ek hierdie organisasies en hulle vele vertakkinge al vir 30 jaar. Die enigste slotsom waartoe ek kan kom wat die hele kosmiese legkaart aan betref, is dat hierdie legkaart feitlik voltooi is, en dat daar nog net ‘n baie klein kern gedeeltejie is wat nog voltooi moet word.
Overgesetsynde, ons lewe in die laaste van dae. Mensdom dit is ‘n half minuut voor 12. Is julle gereed vir die hiernamaals? Kry julle lewe in orde is al wat ek hieroor wil se.
Een goeie ding wat al my studie uit die honderde boeke wat ek gelees het, gebring het, was dat ek ‘n dieper verhouding met my Skepper ontwikkel het, en dat ek besef het wat die Skrif van praat as hy se van warm en koud en lou. Ek het besef ek was lou, en dat HY my sou uitspuug omdat ek lou is. Dit het my met skok laat besef dat ek glad nie naastenby leef soos wat Hy dit in Sy woord vir ons uiteen gesit het nie. Daar is nie twee wee nie. Ek moes kies, die bree weg of die smal weg. Algaande het my verhouding met Hom verdiep, en sin en betekenis in my lewe gebring.
My wonderlike Skepper en Hemelse Vader het my in die Skrif belowe dat Hy my nooit uit sy hand sal laat gaan nie. As ‘n mens wegdwaal sal daar op ‘n dag met jou iets gebeur wat jou tot stilstand sal dwing en jy besef dat daar iets gebeur het, en dit is net een wat so met jou kan werk, en dit is die Allerhoogste. Niks in die lewe gebeur sommer net so toevallig nie. Alles gebeur met ‘n doel.
Wanneer ‘n mens se verhouding met jou Skepper weer nuwe lewe kry, is wanneer ‘n mens se kinders hul tienerjare bereik. Dan weet ‘n mens van bid. Dan weet jy die enigste Een wat kan help is jou Skepper, want alleen kan ‘n mens nie kinders groot maak nie, wat nog te se om tieners te probeer verstaan . Veral as hulle klaar is met skool. Jy is nie meer daar om hulle te beskerm en te vermaan nie, en al wat jy kan doen is op jou kniee bly vir hulle en die Skepper se beskerming oor hulle af te bid. Dit het menige dag my kinders uit gevaarlike situasie gered. Hulle het baie te vertelle van hulle wedervaringe, en dan weet jy dat jy op daardie dag en op daardie oomblik vir hulle gebid het. Die Heilige Gees vertel vir jou jou kind is in gevaar en jy moet bid. Dit het elke keer gewerk!
So lei die Vader ons na hierdie klein dorpie Frankfort, om vir Hom hier ‘n nuwe Kerk te begin. Ons was dooplidmate van die N.G. Kerk maar nadat ons die liberale rigting waargeneem het waarin hierdie Kerk begin beweeg het, het Hy ons gelei en onderskraag om vir Hom ‘n nuwe Kerk te begin, Die Afrikaanse Protestantse Kerk. Soos Yahshua nie die “Godsdiens” van daardie tyd wou herstel nie, het Hy ‘n nuwe Leer begin wat vandag bekend staan as die Christelike Leer. As die suurdeeg vrot is, help dit nie om nuwe suurdeeg by te voeg nie, maar dit sal alleenlik werk as nuwe suurdeeg gebruik word. Soos die parabel in die Skrif wat Yahshua gebruik het dat ‘n mens nie nuwe wyn in ‘n ou sak gooi nie, en ook nie nuwe lappe op ‘n ou sak werk nie. Maar helaas, lei Hy my in ‘n heel nuwe rigting wat ek nie gedink het maklik sal gebeur nie, maar tog gebeur het. Soos die Halleluyah liedjie lui: “Waar Hy lei daar sal ek meegaan. Gaan ek met hom tot die end”
Dit bring my by die kennis van my Skepper se eie persoonlike Heilige Naam. Ek weet vir meer as 10 jaar dat my Skepper se Naam Yahweh is, en dat my Verlosser se Naam Yahshua is, maar dit was nie by my erns om Sy Naam te gebruik nie. Ek was bly dat ek nou uiteindelik geweet het dat Hy ‘n Naam het. So het ek ook geweet dat die teken op ons Psalm en Gesange boek ‘n afgodsteken is, en dat ons nie van Bybel kan praat nie, dat dit ook ‘n afgodsnaam is, maar ek het maar so saam met die stroom beweeg. As die meerderheid daarmee tevrede is, dan is dit goed so. Tot my Vader hard op ‘n dag met my gewerk het.
Ek het my rug by die werk beseer, en maar vir baie jare so probeer aangaan, tot op ‘n dag dat ek feitlik nie meer kon loop nie. Ek het toe ‘n rugoperasie gehad. Die operasie wat my hele lewe verander het. Ek wil net kortliks vertel wat my tot in my fondamente geskud het, en my hele lewe verander het. Fisies en Psigies.
Ek is op ‘n Maandag 21 Oktober 2002 geopereer, en ek het nie weer my bewussyn herwin tot die Donderdag toe nie. Die Woensdag aand het my dogter besef dat daar groot fout met my is. Sy het die Suster aan diens geroep want ek het vir haar sianoties voorgekom. Pulmonale edeem en gevolglik Pneumonie, of dubbele longontsteking. Ek was glo gedurende die nag geweldig rusteloos en aggressief waarvan ek natuurlik nie bewus was nie. Die volgende wat ek van bewus geword het, was toe die dokter vir my se om stil te le want hy gaan nou ‘n buis in my keel insit want hulle gaan my aan die hart-long masjien koppel omdat ek so benoud, en blou in die gesig is. Ek het daarna geweldig geveg en my mond styf toegeknyp, want ek wil nie aan sulke apparaat gekoppel wees nie. Ek het in hierdie proses gevoel hoe die lewe uit my liggaam begin uitsypel. As ek se dat ek bewus was van hierdie dinge, het ek dit nadat ek my bewussyn herwin het in die intensiewe eenheid, vaagweg onthou, soos ‘n droom wat ek gedroom het. Wat die dokter sy poging laat vaar het om my nie te intubeer nie, bly vir my nog ‘n raaisel!
Die volgende wat ek ervaar het, is dat ek besig was om te sterf. Ek het toe die Vader gevra dat ek nie nou kan doodgaan nie want … my … kinders …. Ek het myself toe sien le in ‘n swewende posisie ver bokant alles. Om my het mense gesweef, wat ek weet al reeds geruime tyd oorlede is. Ek het een of twee van hulle herken.
Vlak by my kop was die helderste lig. ‘n Lig so skerp dat dit my toe oe gebrand het. Ek het my hande voor hierdie skerp lig gehou om my oe te probeer beskerm. Die wonderlikste vredevolle gevoel het daar geheers. Die mense was vreeslik vriendelik en het bly gelyk om my daar tussen hulle te he. ‘n Huisdokter van ons wat sowat 10 jaar gelede oorlede is, het na my toe gekom en my op my voorkop gesoen. Toe het ek geweet dat ek nie meer gaan doodgaan nie. Hierdie geweldige skerp lig het toe van my kop na my voete toe beweeg waar dit nog so ‘n rukkie getalm het, en toe verder en verder weg beweeg het.
Rondom hierdie gebeure het daar mans wat in swart geklee was in ‘n klein kringetjie gesit en vir my gesing, maar tussen hulle het daar ‘n teken gele, iets soos die Ster teken van Israel, of was dit ‘n soortgelyke satanistiese teken? Dit kan ek regtig nie vir al die geld in die wereld se watter teken dit was nie. Wat ek wel van bewus was, was dat hierdie teken my werklik ontsteld gelaat het. Het ek met albei kante van die spektrum in hierdie rukkie wat ek “dood” was te doen gekry? Aan die een kant die wonderlike vrede van die Hemel, en die ander kant die donker elende van die hel?
Dit was Donderdag oggend so om en by 11:00. Nadat ek my bewussyn vir die eerste keer sedert die Maandag herwin het, en nadat ek besef het dat ek besig was om dood te gaan, het ek geweldig depressief gevoel. So naby tog so ver. Ek was so naby aan die vrede van die hemel, maar ek moes weer terugkeer na hierdie harde ongenaakbare lewe met al sy probleme. Wat was die doel van hierdie hele ondervinding? Dit het soos ‘n mallemeule deur my kop gedraai, hoekom, waarom?
Soos ek hierdie verhaal aan mense oorvertel het, het een en almal my verseker dat die Almagtige nog ‘n doel met my vorentoe het. In my staat van depressie oor my fisiese lewe verwoes was het ek nie so gedink nie. Ek was normaalweg ‘n gesonde, fikse, sportiewe mens, en wat tot en met my rugbesering nog provinsiale Pluimbal bespeel het, en nog af en toe ook tennis gespeel. Ek was lief vir tuinmaak, en was ‘n bedrywige mens. Van stilsit het ek nie geweet nie. Skielik was ek ‘n invalide wat nie eers my kleinkinders kon optel nie. Dit was ‘n geweldige aanpassing in my lewe.
Die detail waarom ek toe vir ‘n derde keer in elf maande, ge-opereer moes word, wat toe ‘n dubbele operasie was, is nie ter sake nie. Ek wil dit tog hier noem dat dit geensins aan die nalatige optrede of prosedure van die dokter se kant af, te wyte was nie. Dit is maar net een van daardie onverklaarbare dinge wat in my lewe moes gebeur.
So ‘n rukkie voor ek toe weer geopereer is, dit was die begin van September 2003, het ek die “opdrag” van bo gekry om ‘n webblad oor die Naam Yahweh te maak. Ek het my verwonder oor hierdie opdrag. Hoekom ek van alle mense. Ek bly in ‘n klein dorpie en van ‘n Biblioteekdiens is daar nie sprake nie. Waar sal ek inligting kry. Ek kan tog nie ‘n webblad voorberei en net se: “Yahweh is Sy Naam” nie. Ek moet tog redes aanvoer hoekom ek so se ens.
Ek vra toe ons Predikant. Hy se toe dat hulle so ‘n klein bietjie daarmee in hulle studies te doen gehad, maar al sy studiemateriaal daaroor het verlore geraak. Die enigste naslaan bron was toe die Internet. Ek het toe gedink ek sal dit gou doen, miskien nog voor die operasie. So twee weke behoort genoeg te wees.
Aangesien ek nie kon sit na die operasies nie, was my komper op ‘n teetrollie voor my bed geinstalleer. In die nagte het ek die internet verken, en webblaaie afgelaai, en bedags bestudeer. Ensiklopediee, woordeboeke, Skrifte (Bybels) en al wat ‘n boek is waarop ek my hande kon slaan. Ek het daarop aan die slaap geraak, en hulle op my, en as my oe oopgegaan het, het ek weer verder gewerk. Wat ek gedink het twee weke se werk sal wees, word toe agt maande. Agt maande waarvan ek feitlik dag en nag gewerk het. ‘n Gemiddelde slaap van 4 ure per nag. In die tussentyd het ek probeer om ook nog die Hebreeuse taal onder die knie kry.
Die dag toe ek begin het met hierdie studie het ek nie die vaagste idee gehad wat op my sou wag nie. Ek het skok, ongeloof, teleurstelling, en verslaendheid, om die beurt ervaar. Kan dit waar wees wat ek voor my oe sien? Hoe is dit moontlik dat ons al die jare so belieg is. Die grootste bedrog in menslike heugenis ontvou voor my oe! Toe begin die groot gebed:
“Vader wat is waarheid en wat is leun? Wys my asseblief die regte pad aan. My vingers en my brein is tot U beskikking. Rig my gedagtes soos U wil he, en gebruik my vingers om te tik wat u wil he daar moet staan”.
Ek het gedurende hierdie agt maande gebid soos nog nooit in my lewe nie. Ek kan maar net van Sy groot genade en wysheid getuig. Keer op keer het ek die antwoorde op my gebede ervaar. Ek staan op van my kniee af en loop na die komper toe. Wanneer ek die wonderlikste studieprogram E-Sword oopmaak staan die antwoord wat ek nou net voor gebid het, helder en duidelik met die kenmerkende pyltjie wat E-Sword sy versies mee begin, voor my oe. Menige dag was ek sprakeloos oor hierdie verskynsel.
Daar was dae wat ek gewonder het of ek die regte ding doen, want dit wat ek mee besig is, is skokkende feite wat die meerderheid mens nie wil hoor of sien nie. Maar elke keer is ek net weer met hierdie sprakelose, verstommende antwoord van Bo gelei. “Gaan aan waarmee jy besig is.”
By my bestaan die woord toevallig nie. As dit miskien een of twee keer gebeur het, kan ek dit miskien aanvaar dat dit bloot toevallig was, maar dag vir dag en keer op keer. Kom ek voor ‘n probleem te staan, is ek terug kniee toe en daarna Internet toe, om net daar en dan die antwoord te kry sonder ‘n gesoek. Dit is net met een woord verstommend.
Ek weet dat hierdie stelling van my vir baie mense gaan klink na wensdenkery, maar dit is hulle probleem. Ek skryf hier wat ek ervaar het en wat regtig ‘n groot gedeelte van my lewe gebeur. Klop en vir jou sal oopgemaak word, soek en jy sal vind. Baie vrae en probleme is al vir my op hierdie manier opgelos. Die Almagtige gee sy antwoorde vir my in die Skrif. Ek glo dat daar waar ek die Skrif oopmaak, die Vader vir my ‘n boodskap het. Net so met E-Sword. Die kernteks het in 85% van die gevalle vir my iets om te se.
Wat ek ook gedurende hierdie agt maande ervaar het, is die feit dat die Skrif vir my oopgegaan het. Sovele kere lees ek versies en verstaan nie eintlik wat daar staan nie. Hoekom sou Yahshua hierdie antwoorde vir die Fariseers gee? Wat het Yahweh eintlik met hierdie versie bedoel? Soveel onbeantwoorde vrae uit die Skrif wat my al jare lank pla, het ewe skielik ‘n nuwe betekenis gekry en ek dit verstaan soos dit bedoel was, en soos dit geskryf is. Ek sal soos ek tyd het dit op die webtuiste plaas.
Woorde ontbreek, my woordeskat te klein, en dit is nie menslik moontlik om te beskryf die grootsheid van die wonderlike YAHWEH wat ons aanbid nie. Daar kom dae in ‘n mens se lewe wat jy wonder oor die bestaan van ‘n Godheid, maar hierdie ondervinding het alle twyfel wat die Satan in ‘n mens plant, vir ewig weerle. Ek weet vandag verseker dat ons ‘n wonderlike lewende YAHWEH aanbid, en wat dinge vir my gedoen het wat ver bo alles is wat ek kan bid of dink.
Ek weet ook verseker dat alles in ‘n mens se lewe nie sommer net toevallig gebeur nie. Ek weet dat elke tree wat ons gee en elke gebeurlikheid met ‘n mens, lank voordat ons mense was, beplan was vir jou lewe. Ek weet dat as ek daardie dag moes gesterf het, ek nie gereed was nie. Dit was ‘n pad wat ek moes loop. ‘n Mens vra baie keer waarom en hoekom, maar as ‘n mens terug kyk, sien jy wat die doel was hoekom sekere dinge met jou moes gebeur.
Moenie vir een oomblik dink dat alles sommer net seepglad verloop het nie. O nee! Die hand van die Satan was oral in. Hy het male sonder tal probeer om hierdie studie te kelder. Wat alles gebeur het, is te veel om hier op te noem, maar ek dank my Skepper Yahweh deur sy Seun Yahshua die Messiah dat ek hierdie studie vir Hom kon klaar maak, om die waarheid aan die mense bekend te stel.
Ek weet ook dat ek baie ongewild en ‘n uitgeworpene sal wees nadat ek hierdie studie bekend gemaak het. Die Satan werk ook baie hard. Deur allerhande lelike konotasies aan die waarheid te hang, sal hy baie mense afskrik. Ek soek nie die eer van mense nie, maar alleenlik alle eer aan my Vader Yahweh. Hy het dit goed gedink om my te gebruik, en as ek vir Hom goed genoeg was, is die res van minder belang.
Act 20:24 Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Meester Yahshua ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van Elohim.
Alle lof, eer, heerlikheid, aanbidding, en prys aan Yahweh my Skepper en aan Sy seun Yahshua my Verlosser en Saligmaker. Ek weet verseker dat ek ‘n lewende Elohim aanbid. HALLELUYAH!!!!!!
10 Mei 2004
Marietjie Raubenheimer
Posbus 54,
Frankfort.
9830
Vrystaat,
Suid Afrika.
HALLELUYAH
Updated: May 20, 2007
Liewe Leser,
Ek groet u in die wonderlike Naam van Yahweh my Skepper en Sy seun Yahshua my Verlosser.
Ek het die wonderlike voorreg gehad om in ‘n baie Christelike gesin groot te word.
Ons het gereeld huisgodsdiens gehou, of “Boeke Gevat” gevat soos dit daardie dae genoem is. Ek het my hartjie vir “Jesus” gegee toe ek omtrent 10 jaar oud was, is baie konserwatief, in handel en wandel, soos wat die Skrif ons leer. Ek is vir 31 jaar gelukkig getroud, het 4 kinders, en 3 kleinkinders, en ‘n vierdie is oppad. Ek is ‘n Geregistreerde Verpleegkundige of beter bekend ‘n Suster. Vandat ek kon onthou wou ek iets met medies te doen gehad het, en dat ek in diens van my naaste wou staan.
Op ouderdom 25 het ek met my opleiding as verpleegster begin, met twee kinders, waarvan die jongste toe net 7 weke oud was. In my vyfde maand van opleiding het ek ontdek dat ek alreeds 3 maande swanger was. Ek was verpletter. Ek het gedink dit was die einde van ‘n wonderlike ideaal om my as ‘n suster te bekwaam. Hoekom ek op so ‘n laat ouderdom met my opleiding begin het? Omstandighede. Gelukkig het ek die wonderlikste matrones gehad, wat my toe baie goedgesind was, en baie onderskraag het. Ek sal hulle daarvoor ewig dankbaar wees. Ek is deur my opleiding met vlieende vaandels. Maar daar was tye wat ek gedink het, ek kan nie meer nie. Met twee pap babatjies en al die baie leerwerk, min slaap, en nog huislike pligte het net te veel geraak.
Op ‘n dag wat ek gevoel het genoeg is genoeg, het daar so helder en duidelik ‘n Stem tot my gespreek en gese: “Ek is tot alles instaat deur Christus wat my krag gee” Dit was van daardie dag af my leuse en alle eer aan my Vader in die Hemel wat my regtig die krag en genade gegee het, om my opleiding te voltooi. So het ek deur die jare my werk aan Hom opgedra en altyd tot Sy eer my pasiente behandel. “Nie tot my eer nie Vader maar tot U eer alleen doen ek dit”
Op ouderdom 14 jaar, het ek ‘n verstommende kennis van die Bybel gehad. Gevolglik, het ek net so ‘n verstommende hoeveelheid vrae gehad waarmee ek ons huispredikant gepla het. Hy het hom sekerlik menige keer vir my arrogansie vererg om die Bybel en ons Christelike Protestantse Kerkleer te bevraagteken.
Op ‘n keer het ek hom gevra wat ons “God” se naam is. Ek het gereken alle gode het name, daarom moet ons God dan ook ‘n naam he. Hy kan mos nie net as “God” aangespreek word nie, siende dat daar van allerhande gode met name, in die Bybel gepraat word. Ons aanbid dan eintlik ‘n naamlose “God” Ek hoef nie eers die reaksie te noem wat ek gekry het met hierdie vraag van my aan die predikant nie. Ek is sonder seremonie die kop gewas en bruusk ‘n antwoord toegesnou dat Sy Naam “God is en dit is al”. Die feit dat daar van “Here” geskryf is in die Bybel het op daardie oomblik nie eers saak gemaak nie. Hy was net “God”